You are currently viewing 7 Junie 2023 – SRA

7 Junie 2023 – SRA

winter hengel sessie 7 Junie 2023

In Oktober 2016 het Shaun Rusch besluit om sy eie merk van hengel dips op die mark te bring. Hy het die kuns van die dip maak by sy pa geleer, wat deel was van die befaamde Rusch-broers, bekend onder ervare hengelaars. Shaun het egter sy eie stempel op die dips gedruk en dit met trots op die mark gebring.

Shaun is nie net ‘n gewone hengelaar wat besluit het om dips te maak nie. Hy het reeds drie keer Protea-kleure verwerf in die hengel wêreld, wat beteken hy weet presies hoe om vis te vang en watter metodes werk. Hy het aanvanklik sy produk begin terwyl hy nog in die lugmag was, maar moes uiteindelik ‘n keuse maak tussen sy militêre diens en sy produk, aangesien dit moeilik was om dit albei suksesvol te balanseer.

Vandag bied Shaun drie verskillende boksies aan, naamlik Swart, Groen, en Rooi. Elke boks bevat ‘n verskeidenheid dips en floats met ‘n voorgestelde kombinasie-lys. Hy is ook besig om aan ‘n vierde boksie te werk wat Geel sal wees, waarmee sy reeks voltooi sal word. SRA bied ook spesie Tigernuts en Boilies, tesame met hul unieke geure, aan. Hierdie produkte kan op Shaun se webwerf, www.sraonline.co.za, besigtig word.

Vroeër vanoggend was ek reeds langs die water, want soos altyd kry ek nie slaap voor ‘n hengel sessie nie. My kop is vol vrae oor die weersomstandighede en of die vis sal byt. Dus staan ek vroeg op en maak my klaar vir die water, eerder as om in die bed te lê en te wonder. Ek het my uitrusting reeds die vorige aand gepak, so teen sesuur was ek al by die water, waar dit nog donker was. Die veld was nie met ryp bedek nie, want daar was die hele aand ‘n sterk wind met bykomende rukwind stote.
Terwyl ek my plek gereedmaak, kom Shaun aangery, gevolg deur Pieter. Ons groet mekaar en begin vinnig ons uitrusting opstel. Rihan sluit ook by ons aan, ‘n gereelde hengelaar by Vosrite wat bekend is vir hulle hengel avonture op Manapools.

Ek sit heel links langs die oewer, gevolg deur die eienaar van die produk en dan die ander hengelaars wat saam met ons vir die dag is. Ek het ‘n spesifieke plek waar ek hengel, sodat ek almal se produkte op dieselfde plek kan toets en nie ronddwaal nie. Ek sien dit as ‘n beter manier om elke vervaardiger se produkte regverdig te beoordeel.
Shaun het ‘n boksie met verskeie dips en floats voor my neergesit, waaruit ek kon kies vir die dag se hengel sessie. Dit is geen verrassing dat ek nie sonder Piesang en Wintergreen kon klaarkom nie, dit was my eerste twee keuses. Ek het egter nie dadelik daarmee begin hengel nie, maar beplan om dit later in die sessie as ‘n kombinasie te gebruik. Ek het ook Pynappel en Bunspice, Banna/Galic, Raspberry/Molasse en Sweet onion gekies. Later het ek ook Gumtree gaan haal.
Ek het dadelik begin met my linker stok, wat verder weg gegooi is met Banana/Garlic dip en ‘n Banana/Garlic float. Ek het dit ongeveer 80 meter net voor die stroom gegooi. My tweede stok was nader aan die oewer, met Raspberry/Molasse en Sweet onion dip, tesame met ‘n fluoro float. Hierdie stok het ek ongeveer 35 meter gegooi. Nou moes ek net wag.

Rihan was die eerste om ‘n vis te vang, gevolg deur Pieter. Shaun se stokke het ook stilgelê. Met die vangste van Rihan en Pieter, het ons geweet die vis is daar, ons moes net volhard. Ek het my stokke herlaai en weer dieselfde kombinasies gebruik. Die wag het voortgeduur.
Uiteindelik het Shaun ook ‘n vis gevang, ‘n mooi karp. Die visse was in goeie kondisie en ek was die enigste een wat nog geen vis gehad het nie. Ek het egter nie lank daarna ‘n klein geelvis op my kortste stok gevang. Ek het hom herlaai en weer ingegooi.
Volgende het ek ‘n muddie op my nader stok gevang, ek het my lyn weer herlaai en weer ingegooi. Op my verder weg stok het ek die Banana en Wintergreen-dip gebruik, tesame met ‘n Banana/Garlic float. Ek het ‘n ruk gewag, maar uiteindelik het ek my gunsteling kombinasie suksesvol gebruik en ‘n karp gevang. Die ander drie manne het ook vis gevang, en vir ‘n winter sessie met moeilike wind omstandighede het ons nie sleg gevaar nie. Alhoewel ek nie baie gevang het nie, was ek bly om te sien dat die ander drie hengelaars suksesvol was.
By die einde van die middag het Pieter die laaste karp van die dag gevang. Dit was ‘n besondere verjaardaggeskenk vir hom, aangesien dit sy verjaarsdag was. Dit was ook interessant om te weet dat Pieter vier jaar gelede toe hy vir die eerste keer hier was, nie een vis gevang het nie. Nou was die ys gebreek vir hom.

Laaste woorde....

Dit was ‘n heerlike dag vol hengel en kuier. SRA se produkte het uitstekend presteer en ons gehelp om vis te vang in moeilike omstandighede. Alhoewel ons ‘n wind waarskuwing gekry het en die wind uit die noord-ooste na noord-wes gedraai het met ‘n snelheid van 24 km/h en rukwinde tot 24 km/h, dink ek daar was tye toe dit erger gewaai het.

Die kombinasies wat vir Shaun, Pieter en Rihan gewerk het, was as volg:

  • Pynappel en Buncpice met ‘n Garlic float en pynappelmielie
  • Raspberry/Molasse met Garlic float
  • Sweetonion met Bloekom en Sweetonion float
  • Bloekom met Baberder en ‘n Bloekom-pit.

Dankie vir ‘n heerlike hengel dag, en vir die lesers wil ek net sê dat die grootste rede waarom ek hierdie winter hengel program doen, is om julle te wys dat julle nie julle hengel moet laat staan tydens die winter nie. Gaan nog steeds hengel en julle sal vis vang, dit vat net langer.

Besoek gerus die webwerf van SRA vir meer inligting oor hul reeks produkte.

Tot die volgende keer…

Groete

Please follow and like us:
error

Leave a Reply