6 Junie 2018 – Super MacPac

Ons 5de Vosrite Fishing / Vervaardiger hengel dag was Woensdag 6 Junie en ons het die Super MacPac hier gehad om agter die kap van die byl te kom met net 7 dips en 3 floaties.. So hier begin my dag….

Ek het die afgelope paar jaar altyd gewonder wat maak die Jan aller man hengelaars daar buite wat nie soos ek en baie ander hengelaars wat omtrent elke geleentheid gebruik om by die hengel waters uit te kom om vir hulle produkte aan te skaf om te gebruik… Ek het iets soos 30 dips in my hengel kas en weet ook van mense wat baie meer het… Nou wat ek aan gedink het, is die persoon het ‘n stok of 2 maar wil nie ’n vis kas vol produkte koop nie, maar nou staan hy voor die winkel rakke en begin wonder wat moet hy nou koop. Word die vraag op sosiale media gevra dan word die persoon met soveel goed toegegooi wat om te gebruik want die “claim” hulle produk is die beste en dan die volgende “claim” hulle produk is weer die beste en so gaan dit aan en die persoon is op die ou end presies daar waar hy was voor die winkel rak en weet nie wat om aan te skaf nie.

Dis ook waar hierdie hengel dae van my wat ek saam vervaardigers hou in gedagte gehou kan word want hier gebruik ons die produkte en ons vang vis en so kan julle dit gebruik vir ’n riglyn want ek glo aan dat 99% van produkte wat hier by Vosrite werk sal by enige ander plek ook werk.

Sovêr kon ek nog nie 1 produk af skiet wat ek reeds hier gebruik het nie. Reg nou kom ons by vandag se hengel met die Super MacPac en wat ons vandag gedoen het.

Dit is weer so dig gemis soos laas Woensdag en ek wag bo vir die Super MacPac span om op te daag. Die mis is so dig dat ek nie eers die ligte by die hek kan sien inkom nie. Ek kry hulle en ons beweeg af na ons Cabin gedeelte toe vir die dag se hengel. Ek hou die hengel dae op Manapools maar daar is gaste op die kamp en so moet ons die Cabin se oewer gebruik vir die dag. Ons gebruik daardie area want dis reg langs Manapools en is basies dieselfde water area. Dis mis lê dig en kan nie die oorkantste wal sien nie. Frik en sy span begin dadelik afpak en regmaak vir die groot dag. Stokke is reg om gelaai te word en Frik oorhandig my Super MacPac en die Tripple P Voer wat ek moet gebruik vir die dag. Al wat ek ekstra het vir die dag is my geliefde kondensmelk degie.

Die Tripple P voer maak jy aan 4 dele voer teen 1 deel water. Bind vinnig en is reg om te hengel.

Nou ek het heelwat al op Sosiale media gesien dat die mense praat van kombinasies soos volg. Die Super MacPac se dippies is genommer van 1 tot 7 en dan is daar ’n Honey, Banlic en Garlic floaties.

No 1,2 en 3 word saam gehengel en 4,5 en 6 word saam gehengel en dan ook 3,6 en 7 en ook 2,5 en 6 en dan natuurlik met die floatie bly. Saam met jou pak kry jy die lysie van kombinasies maar soos die lysie se “Maak gerus jou eie kombo” en van die wat my ken is ek daardie een wat my eie kombinasies wil maak want ons weet mos dat die ander werk.

Reg my beplanning vir die dag is soos volg. Weer gaan ek ’n naby stok gooi vir moddervis en dan sal ek die ander verder gooi om te kyk of ek ’n karp of 2 kan aankry. Frik en sy span besluit dat hulle vir karp wil gaan en so gaan hulle dan net vêr stokke gooi. Frik hulle het herken dat hulle nie regtig moddervis hengel ken nie en wil kyk of hulle ’n mooi karp kan optel.

Die Cabin se water is bietjie anders as Manapools en hier moet jy net so voor die helfte van die rivier gaan om by die diep water uit te kom. Met al die oorstromings die afgelope jare het heelwat riviersand voor die cabin ingespoel en die water vlakker gemaak maar ’n ent inval hy na oor die 5 meter diepte toe. Ek gaan regs Manapools se rigting hengel en my naby stok gaan op so 50m en vêr stok op 70m.

Ek laai my naby stok met Dip 2. Slegs nommer 2 met dan ’n Honey floatie onder en op die boonste hoek ’n kondensmelk degie. Nie baie groot deeg nie.

Op my vêr stok begin ek met Dip 1 en 4 saam ’n Banlic floatie op onderste hoek en boonste hoek weer net ’n kondensmelk degie. Ook nie groot degie nie.

Stok 1:

Stok 2:

Ek is gereed en my stokke is in. Mis is nog hier maar kan darem die son deur die mis al sien.

Ek weet dit vat so uur voor die visse aan die gang kom en nou gesels ons lekker terwyl ons wag vir die visse. Almal se stokke is in en reg en daar begin beweging by my naby stok…. Ek weet sommer dis moddervisse want dis sulke klein op en af bewegings. Dis net oor 30 min en daar loop my naby stok, maak vas en dadelik voel jy daardie bekende kop stampe van die Vosrite moddervisse. Nie lank nie en die vis is op die wal en dis ’n mooi moddervis. Terwyl ek met die vis besig is trek my vêr stok ook weg en Frik se vrou maak hom vas. Vinnig hak ek die vis af en sit hom in die net vir ‘n foto later en vat toe die vêr stok en op die wal is nog ’n moddervis.

So nou is dit 2 vis op die wal. Ek herlaai weer met dieselfde en gooi weer in. Nou die lê die stokke bietjie langer maar dit gee ons kans om lekker te gesels oor Vosrite, Visvang SA en sommer bietjie oor die MacPac. Dis wat die hengel dae so lekker maak hier is dat dit geen kompetisie is om te sien wie vang die meeste vis of die grootste vis nie, maar om die dag te geniet en ’n vis of 2 te vang en ’n lekker verslag te skryf na die dag se hengel.

Die diep stokke van MacPac span lê doodstil. Ek het weer beweging by my naby stok en nie lank nie en die moddervis is aan…speel hom lekker en nog ’n vis vir ’n foto later. Ek gooi weer kombinasie no 2 en die wag begin. Ons gesels nog so lekker en die vêr stok trek weg met ’n spoed. Vinnig gryp Frik die kamera en neem die “reel run”  af maar ongelukkig kom die vis af terwyl ek hom inbring maar dis deel van hengel. Ek aas weer op met no 1 en no 4. Gooi lekker diep op my merk.

Frik se 1 stok trek weg asof daar nie ’n môre gaan wees nie en Frik is aan met ’n vis. Die vis veg hard en dit voel soos ’n mooi groot vis. Na ’n lekker speel is die karp op die wal. Die vis het baie groter gevoel maar dit is een van daardie donker karpies wat ons ’n stroom karp noem. Hulle het baie meer krag as die gewone karpe en dit voel regtig of jy besig is met ’n groot vis maar dan kom hierdie heelwat kleiner karp uit met so mooi donker kleur. Maar dis ’n vis op die wal. Nou as die karpe net beter wil byt sal dit ’n perfekte dag wees want ek vang gereeld ’n mooi moddervis.

Daar is nie ’n wind wat waai nie en ek sê vir die MacPac span dat die wind moet begin waai anders gaan ons nie vis kry nie. Woorde skaars koud en daar waai so ligte windjie en soos gesê daar loop die stok. Nog ’n vis op die wal maar daar gaan lê die wind weer. Ek het gaste op Manapools en daar is die vis ook baie stil.

Ek verloor op my vêr stok nog 2 visse en besluit ek gaan my kombinasie verander. Wat is volgende? Ek besluit op no 5 en no 7 wat Honey en TCP is. Saam met dit sit ek ’n honey floatie op die onderste hoek en dan ’n garlic floatie op die boonste hoek saam met ’n kondensmelk degie. Dit is nou my vêr stok kombinasie want op my naby stok bly ek op no 2.

Byte is stadig en die karpe wil niks weet nie. Omdat die MacPac span karpe teiken is hulle stokke stil, maar darem kry ons ’n vis of 2 op my stokke.

Op my nuwe kombinasie op my vêr stok kry ek 2 moddervisse gevang en verloor ’n vis. Weer tyd om te verander want ons hengel tyd raak min. Almal herlaai weer hulle stokke. Van die MacPac span het ook nou nader beweeg met hulle stokke.

Ek verander my vêr stok na no 3 en no 6. Dis pynappel en sweetcorn. Saam honey floatie op onder hoek en garlic floatie op boonste hoek.

Nie lank nie en my vêr stok loop en dis net voor 3 en met ’n lekker speel het ek hierdie mooi karpie op die wal. Frik se stok trek ook weg en ook ’n karpie op die wal. Lyk of die karpies nou wil begin byt maar ons tyd is verstreke.

Vinnig word opgepak want die MacPac span moet nog ’n ent terug ry huis toe. Met die oppak loop my stok en ’n mooi moddervis is die laaste een wat uitkom vir die dag.

Baie dankie aan die MacPac span vir hierdie lekker hengel dag van julle. Ek kan hierdie MacPac aanbeveel vir almal wat nie ’n kas vol dips wil hê en rondry met dit nie. Hierdie MacPac kom mooi in ’n sakkie wat jy bymekaar kan hou en jy het ’n produk wat jy mee vis kan vang. Saam met die sak voer kan jy enige waters aanpak….wel as jy by Vosrite kom vang met jou MacPac dan weet jy wat om te kom gebruik hier om vis mee te vang.

Vir meer inligting rondom die Super MacPac besoek gerus hulle webblad by : www.supermacpac.co.za

Daar is ook vir Junie ’n spesiale aanbod so moenie dit mis nie.

Groete tot volgende week

Henning

NS. Soos julle al seker gesien het met al 5 hengel dae looi ek die modder visse en dit alles sonder hierdie spesiale “muddy voer” of “muddy kombers” wat altyd genoem word…. daardie is nie nodig nie…..

 

Please follow and like us:
error

This Post Has 2 Comments

  1. Andre

    Macpac jou doring! Wag al lank vir die geleentheid. Mooi so Frik en dankie Henning!

  2. Déhan

    Dit wys mens net, jy kort nie n klomp bottletjies met fancy name nie.

    Goeie hengel dag Henning en Frik!

Leave a Reply