23 Mei 2018 – Conoflex Signature Reeks

Ons 3de Vosrite Fishing / Vervaardiger hengel dag was Woensdag 23 Mei en ons het Conoflex en JL Customs hier gehad. Meeste indien nie almal ken vir Loutjie Louwies, vervaardiger van die Conoflex Signature Reeks dips en ook die aanbieder van Vaskap en Let’s go Fishing.

Die Conoflex reeks word deur Rapala VMC versprei en is nou al ’n paar jaar op die mark en onder die Conoflex “Brand” is daar nie net die dips beskikbaar nie, maar ook hengelgerei. Loutjie is slegs betrokke by die dips.

JL Customs was die gas besoeker en op ’n volgende blog sal ek meer vertel van wie en wat JL Customs is.

Soos met die vorige besoekers het ek weer reggemaak vir ’n lekker hengel sessie. Dit word al hoe kouer saans en oggende maar deur die dag is dit baie lekker weer. Ek is vroeg op Woensdagoggend om alles reg te kry vir die dag. Al wat nou moet kom is die gaste.

Net voor 7 stop Oom Johan Louwies by my en ons drink gou ’n lekker koppie koffie. Oom Johan maak gou vir my een van my 11ft JL stokke se ogie reg sodat ek met hulle kan hengel vir die dag. Net dankie sê vir Jaco Smith wat die 2 stokke vir my gegee het.

Al my goed is opgeslaan en Oom Johan is ook so te sê reg om te begin…. Voer aangemaak, my foto van die oggend is geneem en ons kan begin.

Loutjie en Karel daag op en vir die 1 deel van die hengel gaan hulle ons nie vergesel nie, want hul moet net eers ’n Vaskap episode skiet. Vir die van julle wat Starsat het, kan oor so 2 tot 3 weke gerus kyk as die episode uitgesaai gaan word. Met Loutjie en Karel eenkant besig om hul goed op te stel het ek en Oom Johan ons stokke in en nou wag ons net om die visse aan die gang te kry.

Daar is nie ’n windjie wat waai nie en op die water lê die bewyse van besoedeling van ons geliefde water en mens raak hartseer om te dink hoe agteruit ons waterbronne gaan. Nie te min is die visse lekker bedrywig op die oppervlakte en nou moet ons hulle net op die kol kry.

Wat is my beplanning vir die dag? Ek beplan om my 1 stok net moddervisse te teiken en my ander stok kyk of ek karpe kan kry. My 1 stok gaan ek op tussen 70 en 80 meter gooi en my moddervis stok soos ander keure nie vêrder as 35 meter nie. Ek deel dit ook so met Oom Johan en hy volg dieselfde metode.

Nou ja…. my stok links is my moddervis stok en ek aas hom op soos volg…..

Ek gebruik die Gly rietvlei strop met 2 hoeke (Ons het die kano naby indien hulle vassit). Op my onderste hoek gebruik sommer met die wegspring ’n Why not(Bloekom) pit en op die boonste hoek net ‘n lekker lang kondensmelk degie. As ek sê lank bedoel ek opgerol teen die hoek lyntjie. Op die voer bal gooi ek Loodewyk en bo-daaroor Tokkelossi. Ek druk die hoek met die mielie terug in die voer bal. Gooi die stok in op 35 meter.

Selfde strop op stok 2. Op my onderste hoek sit ek ’n piesang pit en op die boonste hoek ’n Raptor floatie saam ’n kondensmelk degie. Ek gooi oor die voer bal Wit Raptor saam Jinx. Ek gooi die stok op 75 meter. Nou wag ons vir die visse.

Na so uur is daar beweging op my diep stok. Oom Johan is vas met ’n vis en op die kant is dit ’n lekker karpie. Sy rekening is oop en kort op sy hakke trek my diep stok ook weg en ek self sit met ’n karpie op die wal.

Ek herlaai weer met dieselfde op my diep stok en nou trek ek my vlak stok in en gebruik presies dieselfde en gooi weer in.

My diep stok lê maar my kort stok trek weg maar so ’n stadige optel en vinnig val aksie…. wip so paar keer op en af en ek maak vas…. Dadelik kan ek voel dis ’n moddervis met daardie lekker kop stamp ruk aksie. Ek het 11 pond lyn op maar nog steeds boelie ek nie die vis in die net in nie. Vis in die net en dis ’n mooi moddervis. Herlaai dadelik my stok weer en gooi weer 35 meter.

My diep stok loop klokslag tussen 30 min en ’n uur. Kan voel dis nie ’n moddervis nie en naby sien ek dis ’n karp. My plan werk om karp naby aan die stroom te vang so ek herlaai weer met dieselfde as die 1st gooi.

My kort stok se polisieman spring weer rond en ek maak vas met nog ’n moddervis. Ek hou die res van die dag my kombinasie dieselfde op my kort stok en land 14 moddervisse vir die dag. Ek het in ’n stadium ’n ander kombinasie gegooi maar dit het nie gewerk nie.

Op my diep stok vang ek ’n moddervis met met Raptor kombinasie en besluit om kombinasie te verander. Ek beweeg oor ’n Bunspice pit onder, net ’n skoon kondensmelk degie op die boonste hoek en op die voer bal Tjop-tjop met Mystic Spice bo-oor. Weer op 75 meter en nie lank nie weer ’n karp aan die lyn. Ek is heel gelukkig dat ons bietjie meer karpe met die sessie vang. Oom Johan het ook al ‘n paar moddervisse en ook ’n baber aan die lyn gehad. Loutjie vang ook lekker vis en tussen het Karel ook sy lyne darem ingegooi. Nou kyk daar is net 1 ding wat Karel mal is oor en dis R2K(Rose). Kyk hy sal hom soos in altyd gooi met ’n piesang pit. Sy aandag is op Loutjie sodat hulle klaar kan skiet so hy gee nie baie aandag aan sy stokke nie.

Kort-kort hoor jy net Karel sê ROLLING dan weet ons ons moet nou mooi stilbly….. Dit beteken ook daar is weer ’n vis aan die lyn.

My diep stok gee nog so karp of 2 en toe vang ek ook my babertjie en dit beteken ek moet my kombinasie verander. Ek gaan terug na ’n piesang pit maar Loutjie lig my in dat hy ’n mooi karp gevang het op Bed & Breakfast saam met Vampire Berry. So gooi ek die kombinasie en ook met ’n kondensmelk degie op die boonste hoek.

Ek kry ’n byt en ja…… na ’n lekker besige poging om die vis op die wal te kry verloor ek die vis na so ± 10 minute se speel. So ek gooi weer in en wag vir die volgende byt. Oom Johan is ook lekker besig deur die dag. Na 1 het Loutjie hulle genoeg materiaal om ‘n lekker Vaskap episode te maak so nou gaan ons gou ’n klomp moddervisse vang.

Karel gooi vir die 1st keer Loodewyk saam Tokkelossi en daar vang hy ’n baie mooi moddervis. Ons het onder mekaar gespot dat hy my nie geglo het dat die kombinasie werk nie, maar die vis is op die wal so dit werk.

Loutjie vang ook die een na die ander moddervis en sy laaste moddervis het uitgekom nadat hy sylyn ingegooi het sonder voer aangesien syne klaar was… Dis weereens ook bewys hoe belangrik kol gooi is as jy sukses wil hê. Ek moet ook bysê ek het in ’n stadium so 5 meter van my kol afgegooi en ek het nie so vinnig vis gekry soos wat ek op die kol gegooi het nie.

Ons dag was om en die groot oppak het begin. Ons almal het vis gekry en wat ’n lekker dag was dit nie. Dit was soos die 2 vorige sessies waar ons saam gelag en lekker visgevang het.

Dankie Conoflex vir die dag se produkte en dankie Loutjie, Karel en Oom Johan vir weereens ’n lekker sessie.

My kombinasies vir die dag:

Loodewyk saam Tokkelossi

Raptor saam Jinx

Tjop-tjop saam Mystic Spice

Bed & Breakfast saam Vampire Berry

Oom Johan se kombinasies:

Loodewyk saam Tokkelossi

Krismis saam Mystic Spice

Why not

Peppermintcrisp

Loutjie se kombinasies:

Rooi tjop Tjop saam G-Fox

Bed & Breakfast saam Vampire Berry

SWG soft bleeder float saam SWD

Redcard float en Blackmagic Bullet

Loodewyk saam Tokkelossi

Degies en  Custard bullet backing

Please follow and like us:
error

This Post Has 3 Comments

  1. Hendrik

    Davathy moon vangste manner.

    1. Hendrik

      Skies davathy .mooi vangste manne.

  2. Vic Vis

    Mooi vangste! Conoflex se dips bly maar bo baas!

Leave a Reply