Ons 2de Vosrite Fishing / Vervaardiger hengel dag was vandag en ons het die manne van Mac dips hier gehad. Donald Mc Donald is die eienaar en Jaco het saam kom hengel vir die dag. Jaco word ook deur Novateur geborg wat bymiddels maak wat jy by jou voer meng vir beter hengel resultate.
Mac dips is al ’n geruime tyd op die mark beskikbaar en word by sommige hengel winkels aangehou. Wat wel nou verander het, is die ontwerp van die plakkers op die bottels. Donald het my ingelig dat daar om en by 40 produkte is sy reeks is. Dit is dan die dips en sproeie saam. Mac dips kom net in 50ml voor en nie 100ml nie.
Donald het vir my ‘n paar dips en sproeie gebring om te gebruik vir die dag en ek self het vir my ’n kondensmelk degie en ’n almond degie gemaak. So ons was reg vir die dag…
Gisteraand het die wind erg gewaai en ook donker wolke het agter die berg aangekom… Ek was maar bekommerd dat ons ’n nat hengel dag gaan hê of dat die so koud gaan wees dat die vis heeltemal van die byt afgaan wees.
Vroegoggend hier net voor 6 is ek onder by die water en sien dat waar ek gister ’n stokkie ingesteek het, het die water opgekom. Ek kyk op die internet na die vloei en sien dat dit naby die Barrage so 61m3 water vloei is 03:00 vanoggend. (Ek sal ‘n blog plaas hoe die water vloei hier werk vir die wat nie weet hoe nie)
Reg so ek weet hier is water op pad en dit kan ook die byt van die vis beïnvloed. Dis onweer en die windjie wil-wil waai. Klaar afgepak en reggekry en ek is reg vir die dag. So wag ek vir die Mac dips manne en met die son wat agter die wolke uitkom neem ek hierdie mooi foto…
Die manne van Mac dips is net na 7 hier en vinnig word daar afgepak en reggemaak vir die dag se hengel.
Mark Oosthuizen van Hooked on Angling in Alberton het saam met Jaco vir my voer gestuur wat hy toe reeds gemeng het met van Novateur se bymiddels. Ek maak die voer aan, pak die produkte in my kas en soos ek deur hulle gaan begin ek te besluit wat ek meegaan hengel.
As ek nuwe produkte toets heir by my dan sal ek met ’n kombinasie begin en sodra ek 3 visse gevang het, sal ek dan die volgende kombinasie gebruik en so aan.
So begin ek op my naby stok met TARAGOMPIE (musk) met op die onderste hoek ‘’n FLORO floatie saam ‘n kondensmelk degie en op die boonste hoek net ’n kondensmelk degie.
Op my vêr stok begin ek met B-STING (honey) saam met ’n HONEY floatie op die onderste hoek met ’n kondensmelk degie en op die boonste hoek net ’n kondensmelk degie.
My naby stok gooi ek op so 35m en my vêr stok op 75m. Die wind begin effe te waai en dis ‘n koue windjie wat waai wat so deur jou sny. Donald en Jaco se stokke is ook in en so begin die wag…. Drink gou ‘n koffie en so gesels ek met Donald om bietjie meer oor sy reeks uit te vind. Donald self hengel en is ook ‘n afrigter en die produkte doen hy nie voltyds nie, maar deeltyds. Hulle begin nou weer die produkte bekend te stel onder dieselfde naam maar net met ’n nuwe baadjie.
Donald se stok begin die 1st beweging toon en net daarna begin my naby stok ook lewe kry…. dis sulke regte skelm buite net soos ‘’n moddervis dit kan doen en nie lank nie en ek is aan met die 1st vis vir die dag… lekker kort vinnige speel en die moddervis is op die oewer…. Die ys is gebreek en nou moet ons die vis aan die gang hou.
Ek gooi weer dieselfde op die naby stok en gooi weer op my kol. My vêr stok begin beweeg maar is maar stadig… dis koud so ek is nie haastig nie. Naby stok begin weer en nie lank nie en ek het weer ’n vis aan die lyn. Nog ‘n moddervis en ek is soos ‘’n klein seuntjie wat wag vir Kersfees….ek wil nog en nog en nog moddervisse vang.
Intussen het Donald ook ’n moddervis gevang en Jaco ’n grootbekgeelvis. My vêr stok hardloop en ek maak vas en besig om in te bring en netso is die vis af. Weet nie wat gebeur het nie, maar ek laai die stok weer met dieselfde kombinasie en gooi weer in. Met tye kom hier so koue wind deur en dan met tye skyn die son en dan is dit weer onweer.
My naby stok is weer aan die byt en daar het ek my 3de moddervis aan en nou is dit tyd om te verander van produk. Volgende gebruik ek STRIKE(Banjo/Wintergreen) saam ’n BANLIC float onder saam kondensmelk degie en dan ook net ’n kondensmelk degie bo. Die STRIKE het ongelukkig nie ’n plakker op gehad nie, maar hy sal in die botteltjie kom.
Stok is weer in en nou kan ek kyk of die kombinasie sal werk vir my. My vêr stok loop en hierdie keer is die vis mooi aan en ek land ‘n mooi karpie. Ek herlaai die stok en gooi weer in. Donald sukkel om aan die gang te kom en intussen vang ek en Jaco vis.
Ons teiken moddervisse naby en Donald vra my op ek al ’n karp so naby gevang het en ja ek het al terwyl ons moddervis teiken. Sy stok begin lewe kry en daar vlieg hy weg met ’n spoed. Speel die vis mooi en daar is dit nou, hierdie mooi karp van 6.9kg net nadat ek en Donald gepraat het van die karp naby.
Ek kry buite op my naby stok maar nie so dat ek kan vasmaak nie, selfde met my diep stok en verloor nog 2 visse. So besluit ek om dan produkte te verander op my diep stok. Die volgende kombinasie wat ek gooi is BA-55 (almond garlic) wat ek oor die voerbal spyt, dan HA-KA (corn) bo-daaroor. Op albei hoeke sit ek dan ’n HA-KA floatie met Almond degie. Vêr stok is in en ek kan aandag gee aan my naby stok.
Weer ’n moddervis aan en nie herlaai met selfde kombinasie. My diep stok loop en ek vang ‘n klein bek geelvis. Herlaai selfde kombinasie en gooi weer vêr. My naby stok loop maar ek mis die vis. Ek kort nog 1 vis om dan my kombinasie te verander.
Ek kry my 3de vis op die STRIKE dip en ek kan weer verander. Nou gaan ek ASPRIS FLORO (pine) saam met PROZAK (naeltjie) met net ’n kondensmelk degie op die boonste en onderste hoek. Stok is in en ek kan weer aandag aan my vêr stok gee. Die vis is daar maar hy wil nie vat nie. Ek loop gou ’n draai en Donald vang ’n moddervis op my naby stok. Ek herlaai en gooi weer in. Ek help vir Donald ’n vis skep en met die trek my vêr stok weg klink soos of my katrol nou gaan ingee. Ek maak vas en kry weer ’n moddervis. Weer in en so begin ons einde se kant toe staan.
Ek kry weer ’n vis op my naby stok en gooi vir die laaste keer weer die kombinasie. My diep stok byt ook weer wat ek herlaai het met dieselfde kombinasie maar hy trek nie styf nie. Na ‘n hele ruk besluit ek maar om uit te trek en daar vang ek toe die kleinste vissie vir die dag.
Ek vang my laaste vis op my naby stok en so sluit ons die dag af. Jaco was gelukkig om Grootbek, klien bek geelvis, karp, moddervis en ’n baber te vang. Donald het lekker onder die moddervisse en karpe baljaar en ek het weereens my dag geniet om my geliefde moddervisse te vang.
Mac dips het my tevrede gestel met die wat ek gebruik het. Lekker gegeur en ook gehalte kan jy sien gaan in die maak van die produkte. Vir die van julle wat dit reeds gebruik nou weet julle wat om te kom gebruik hier by Vosrite en die wat belangstel om meer uit te vind van Mac dips kan in kontak kom met Wilma by 072 264 0561.
Baie dankie aan Donald en Jaco vir julle kuier vandag en die lekker sessie wat ons kon meemaak. Sien uit om weer saam julle te hengel.
Hier is die lys van kombinasies wat gebruik is vandag deur Jaco en Donald.
Banjo/BA-55/B-Sting
Prozak/Teragompie/Aspris rooi
Strike/BA-55/Aspris groen
Honey en Banlic floats
Aspris groen/Banjo/Prozak
HA-KA/BA-55
Eclips(vicks)/Lootie
HA-KA en Honey floats
Tot volgende Woensdag
Groete
Henning
Vangste vir die dag….
Mac Dips is omtrent al waarmee ek hengel. Baie bly om te sien dit werk so goed by julle!
Baie mooi en geluk met die vangste.
Baie geluk met jul mooi vangste. Sal eendag by oom hulle uitkom.
Altyd ‘n plesier om oom se verslae te lees